Algemene vrae oor brandseisoen
Of u ‘n grondeienaar of ‘n inwoner van die dorp is, die brandseisoen bring baie vrae: Wat kan u doen? Hoe kan u help? En watter stappe moet u neem as ‘n veldbrand u eiendom bedreig?
Om dinge makliker te maak, het ons algemene vrae saamgestel wat u verantwoordelikhede uiteensit – en die praktiese maniere waarop u brandgereedheid hierdie seisoen kan ondersteun.
Hoe kan die publiek op hoogte van brande in die area bly?
Amptelike veldbrand inligting word gedeel via die Overberg Distriksmunisipaliteit se Facebook-blad, Overstrand Munisipaliteit se Facebook-blad of op die Greater Overberg Fire Protection Association se Facebook-blad.
Moet asseblief nie onakkurate of onbevestigde verslae oor brande deel nie. Onbevestigde en onakkurate verslae kan brandbestrydingspogings bemoeilik.
Waar is die helikopters?
Die Wes-Kaapse Brandseisoen begin amptelik elke jaar op 1 Desember. Tot dan is die lug ondersteuning besig om brande elders in Suid-Afrika te bestry. Lees meer hier.
Wat kan ek doen om te help?
U kan op verskillende maniere help:
- Plaaseienaars en -bestuurders
As u in onmiddellike gevaar is, kan u help met brandbestryding op u eie eiendom; indien nie, kan u ‘n buurman of eiendomme binne u area help.
- Nie-plaaseienaars
As u nie brandbestrydingservaring of -hulpbronne het nie, kan u die hardwerkende brandbestryders help deur nie-bederfbare skenkings by die brandweerstasie naaste aan die brand af te laai.
As u onseker is, skakel die Overberg-beheerkamer by 028 425 1690 of die Overstrand-beheerkamer by 028 312 2400 om uit te vind waar u skenkings kan aflaai.
Wat doen ek as ek hulp nodig het, maar nie selfoon ontvangs het nie.
Indien u ‘n landlyn het, gebruik die landlyn om te skakel:
- Overberg-beheerkamer by 028 425 1690
- Overstrand-beheerkamer by 028 312 2400
Indien u nie ontvangs het nie, ry na die naaste pad of waar daar ontvangs is en skakel die brandweerbeheerkamer vanaf u selfoon.
Waar en hoe rapporteer ek ‘n brand?
Bel die Brandweer onmiddellik wanneer u rook of vuur sien!
Alle veldbrande moet direk by die Brandweer aangemeld word. Hulle sal die volgende inligting vra:
- Wat is die ligging van die brand?
- Wat presies is dit wat brand?
- Is daar enige strukture naby?
Overberg Beheerkamer: 028 425 1690
Overstrand Beheerkamer: 028 312 2400
Waar kan ek grondspanne of kontrakteurs kry om my te help as ‘n vuur my eiendom bedreig?
Daar is ‘n paar opsies vir grondspanne of kontrakteurs wat kan help met brandbestryding of die belangrike “mop up”. As grondeienaar kan u direk navraag doen oor grondspanne.
Kyk na die volgende Facebook-bladsye vir kontakbesonderhede:
Hoe word ek lid van goFPA?
Grond eienaars registreer vrywillig by die goFPA. Registrasie is maklik. Laai die Lid-aansoekvorm hier af.
Lede betaal ‘n jaarlikse fooi wat bepaal word deur die grootte van die eiendom, wat gebruik word om wetlike nakoming en geïntegreerde brandbestuursaktiwiteite te verbeter.
Wat is die voordele om ‘n lid van goFPA te wees?
Die goFPA werk aktief om veldbrande gedurende die warm somermaande te bestuur en te beheer. Maar baie van ons werk vind plaas voordat die brandseisoen selfs begin:
- Ons help grondgebruikers om aan hul wetlike vereistes te voldoen.
- Ons bied opleiding aan grondgebruikers en hul spanne.
- Ons fasiliteer brandbestuurbeplanning, soos om te help met brandvoortplantingbeplanning en die ondertekening van brandvoortplantingsooreenkomste tussen bure.
Dit alles vorm deel van ons Geïntegreerde Brandbestuursbystand.
Ek wil op vakansie gaan, wat is my verantwoordelike hede as ‘n grondeienaar?
Daar moet altyd ‘n verantwoordelike persoon op of naby u eiendom wees. Stel ‘n buurman, vriend of werknemer in kennis. En maak seker dat hulle weet hoe om die brandweer te kontak. Wanneer dit brand is tyd is krities.
Overberg Brandweer 028 425 1690
Overstrand Brandweer 028 312 2400
Wat kan ek doen om te verseker dat kontrakspanne (bv. Wat indringer plante uithaal/Hout makers) nie vure veroorsaak op my grond nie?
Dit is belangrik om beheer oor kontrakspanne op u grond te hê.
Hier is stappe wat u kan neem om seker te maak dat kontrakspanne nie brande veroorsaak nie:
- Geen rook in ongemerkte areas nie.
- Moenie masjinerie of elektriese gereedskap (bv. kettingsae, “brush cutters”, bossieslaaners, sweismasjiene ens.) op oranje en rooi FDI dae gebruik nie. Kyk of daar enigiets anders is wat kontrakspanne vir die dag kan doen.
- Geen oop vure in ongemerkte gebiede nie, dit sluit in die maak van vure om soggens warm te bly en vure om kos te kook of warm te maak. ‘n Klein vuur veroorsaak maklik ‘n groot brand.
Landskap WhatsApp-groepe lesse geleer:
Wat hierdie groep nie is nie:
- ‘n Amptelike Brandweergroep.
- Dit is nie moontlik om alle belanghebbendes ten volle ingelig te hou oor die risiko’s, waarskuwings, strategieë en brandbestrydingsaktiwiteite nie.
- Direk geaffekteerde grondeienaars moet tydens ‘n veldbrand in kontak bly met die Brandweerdienste. As goFPA sal ons ons bes doen om daardie verhouding te fasiliteer.
Veldbrand in of naby jou area:
- Dringende boodskappe met die ligging of status van die veldbrand sal so gou as moontlik of wanneer moontlik gedeel word.
- Tydens ‘n veldbrand in jou area of in ‘n landskap naby jou.
- Hierdie groep sal gebruik word om grondeienaars (geaffekteerde) vergaderings aan te vra om die status te bespreek, waarskuwings te gee en watter voorbereiding gedoen moet word.
- Indien tyd toegelaat word, sal brandbestrydingstaktieke/ aktiwiteite in die algemeen of spesifiek gedeel word. Dit is nie altyd moontlik nie en kan nie van so ‘n groep verwag word nie.
- Dringende waarskuwings bv. verandering in brandgedrag – wanneer die owerhede of ons nie al die kontakbesonderhede van die betrokke grondeienaars het nie – kan so ‘n groep gebruik word om spesifieke waarskuwings te gee.
Onwettige houtkappers
As grondeienaar is u verantwoordelik vir brande wat deur onwettige houtkappers op u grond veroorsaak word.
‘n Grondeienaar moet kan bewys sy/haar pogings om sulke aktiwiteite, bv. houtkappers, onwettige bewoners, ens. op hul grond te voorkom.
Dit kan insluit:
– Duidelike tekens
– Beperk toegang tot u grond
– Rapporteer oortreders aan die SAPD
– Wees voorbereid om te reageer.
Foto deur Marco Jordaan
Wat beteken dit as u ‘n vuur in ‘n sirkel sien brand?
Wanneer u ‘n vuur in ‘n sirkel sien brand, beteken dit nie dat die vuur doelbewus in ‘n sirkel aangesteek is nie. Nuut aangesteekte vure brand dikwels in ‘n sirkelvorm omdat die vlamme eweredig in alle rigtings versprei voordat hulle momentum kry. Die wind speel ‘n groot rol – wanneer dit sterk is, beweeg die vuur vinnig in een rigting. Maar as dit ‘n windstil dag is, kan die vuur vir ‘n geruime tyd in ‘n sirkel aanhou brand.
WAT MOET EK DOEN AS ‘N BRAND OP MY EIENDOM ONSTAAN VANAF ‘N ESKOM-TRANSMISSIELYN
Sodra die brand geblus is, maak seker dat u die voorval deeglik dokumenteer. Teken die paalnommer aan, neem foto’s van die paal en die naaste substasie, noteer die tyd wat die brand begin het, en neem foto’s van die brand en enige verwante besonderhede. Hou hierdie inligting veilig – u sal dit benodig as bewys van hoe die veldbrand op u grond begin het.