Dit is nou die ideale tyd om jou sake in orde te kry vir die komende brandseisoen.  

Ons het die raad en advies hieronder van Herman van Dyk, goFPA-direksielid en verteenwoordiger van Overberg Wealth and Risk Management, ontvang en ons deel sy riglyne en raad vir grondeienaars om hul versekering in oënskou te neem en, waar nodig, die fynskrif te hersien. Dis nietemin baie belangrik dat jy self ook advies inwin oor die aangeleentheid van jou makelaar en regsgeleerde, want ons as die goFPA kan nie aanspreeklikheid aanvaar vir die korrektheid van die onderstaande nie.

“Met die brandseisoen wat voorlê, bied die lentemaande tyd om seker te maak dat jy voldoende voorbereid is,” sê Herman. 

“Die primêre doel van versekering is om te verhoed dat jy jou boerdery se deure moet toemaak. So dis belangrik om die risiko’s te identifiseer wat die potensiaal het om jou boerdery te kelder.” 

Sodoende kan jy, met behulp van jou makelaar, die regte dekking kies om jou grond te beveilig. 

Verstaan die verskillende soorte versekering 

Grondeienaars weet hulle het brandversekering nodig, maar is nie altyd seker wat dit behels nie,” sê Herman. Deur ingelig te wees oor die verskillende soorte dekking, kan jy verseker wees dat jy behoorlik voorbereid is. Die opsies is: 

  • Aanspreeklikheidsdekking

    beskerm jou as ’n brand van jou grond versprei en elders skade aan derdepartye se eiendom en selfs lewensverlies aanrig, ongeag of die brand op jou grond ontstaan het of nie. 

  • Brandbluskostedekking

    stel jou in staat om te keer dat ’n brand van jou grond af versprei en vir die blus en bestryding van die brand binne jou grense. * Let asb, hierdie versekering is nie geldig om te voorkom dat ‘n brand jou plaas/eiendom bereik nie.

    EN

  • Brandversekering vir jou versekerde bates

    stel jou skadeloos indien jou bates in ’n brand beskadig word. 

  • Brandbluskostedekking vir jou versekerde bates

    help jou om proaktief op te tree. As ’n brand op pad is na jou eiendom, sal dié dekking jou in staat stel om dit te probeer blus en skade te verhoed. 

Al soorte dekking is belangrik om te oorweeg, maar aanspreeklikheidsdekking is onder die belangrikste beskerming wat ’n grondeienaar kan uitneem. * Bespreek asb met ‘n makelaar die kostes van “sambreel” uitbreiding van u aanspreeklikheidsdekking. Daar is beperking op die bedrag wat u kan eis en kan lei tot moontlike hoë bybetaling. Afhangend van die polis wat u kies, kan daar ook ‘n bybetaling betrokke wees. Maak asseblief ook seker dat u dit met u makelaar bespreek.

Herman sê: “Wanneer jy nagelaat het om jou voertuig te verseker, kan jy sit met kontantvloei probleme. Maar as jy nagelaat het om voldoende verspreiding-van-brand-dekking uit te neem,kan die finansiële impak so groot wees dat jy jou grond verloor.” 

Die waarde van ’n goFPA-lidmaatskap 

Alhoewel lidmaatskap by ’n brandbeskermingsvereniging (BBV) soos die goFPA nie tans ’n voorvereiste is vir die meeste dekking nie, raak versekeraars al strenger. 

“As jy ’n BBV-lid is, bied sekere versekeraars afslag op jou premie en laer bybetalings. Dis omdat jou lidmaatskap jou toegang gee tot kundigheid en bystand wat help om brandrisiko te verminder.” 

’n BBV-lidmaatskap is ook die beste praktyk om jou brandparaat te bewys. Byvoorbeeld, as ’n buurman jou aanspreeklik wil hou vir skade weens ’n brand wat op jou grond begin het, moet daar eers bewys word dat daar van jou kant af nalatigheid was. 

“As jy nie ’n BBV-lid is nie, word jy outomaties as nalatig gesien. Dan is dit jou verantwoordelikheid om te bewys dat jy nié nalatig was nie,” verduidelik Herman. Maar met ’n lidmaatskap, draai die Brandwet daardie bewyslas om. 

“Dit beteken die verantwoordelikheid om nalatigheid te bewys, val nou op jou buurman. Hierdie omgekeerde bewyslas is ’n aansienlike voordeel in die hof, omdat dit baie moeilik is om nalatigheid te bewys, al dan nie.” 

As die nood druk… 

Wanneer ’n brand dreig, is dit belangrik om vinnig die behoorlike protokol te volg. Dit is eerstens ’n wettige vereiste om jou bure, die goFPA en die brandweer onmiddellik in kennis te stel. Tweedens moet jy alles in jou vermoë doen om die verspreiding van die brand te stop. 

Sou die vuur buite beheer raak, is dit soms nodig om lug-ondersteuning in te roep. Gewoonlik sal die brandweer hierdie besluit neem, maar grondeienaars kan dit ook onmiddellik self aanvra deur die brandweerhoof of uitvoerende beampte van die BBV. Dan is die grondeienaar ook verantwoordelik vir die rekening.

Op só ’n oomblik, kan die regte dekking die deurslag bied in die stryd teen ’n verspreidende brand. 

Indien jy die brandbluskoste-uitbreiding onder jou aanspreeklikheid-afdeling het, sal jy dekking hê vir die kostes wat gepaard gaan met lugbystand om te keer dat die vuur van jou grond af versprei. 

“Dit is dekking wat baie grondeienaars nalaat om uit te neem, maar dis nodig aangesien lugbystand verskriklik duur is,” sê Herman. 

Dis belangrik om te onthou dat versekeraars slegs brandbluskoste op jou eie grond dek. Maak dus vooraf by jou buurman seker dat hy ook genoegsame dekking het om lugbystand in te roep indien dit nodig is. Sodoende is die kans beter dat ’n vuur geblus word voordat dit handuit ruk.

 

Wat sê die wet? 

Dis belangrik om te onthou dat jou versekeringspolis altyd onderdanig is aan die landswette. In die geval van branddekking, is dit dus belangrik om seker te maak dat jy die Brandwet volg.  

Die Brandwet vereis, onder andere, dat jy voldoende brandbane en brandbestrydingtoerusting moet hê, maar die goFPA of jou makelaar kan jou in meer besonderheid leiding gee oor hoe die wet op jou van toepassing is.  

“Ons raai grondeienaars ook aan om dekking vir sambreelaanspreeklikheid uit te neem. Dit kan jou aanspreeklikheidsafdeling tot met R20 miljoen uitbrei om seker te maak jou dekking is voldoende en gemoedsrus te verseker.” 

Die brandwet vereis ook dat jou personeel opgelei is in geval van ’n krisis. Die lentemaande is dus ’n goeie tyd om sulke opleiding deur die goFPA te reël, en sodoende goed voorbereid te wees as die brandseisoen aanbreek. 

“Die wete dat jou versekering voldoende is, gee natuurlik ook vir jou gemoedsrus,” sê Herman. “Praat met jou makelaar en maak seker alles wat in plek moet wees, is in plek.”

Images: Justin Sullivan and Pieter Rossouw